Auswitz staan aan die wêreld bekend as ‘n simbool vir terreur, massamoord, en die Volksmoord of Volksslagting.
Dit was deur die Duitsers gevestig in 1940, in die voorstede en buitewyke van die stad Oswiecim, ‘n Poolse stad wat geheg is aan die Derde ‘Reich’ deur die Nazis gedurende die 2e Wêreldoorlog. Die plek se naam is verander na Auswitz, wat dan ook die naam van die kamp, geword het: Konzentrationslager Auswitz.
Die kamp het oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar uitgebrei totdat dit uit drie dele bestaan het: Auswitz 1, Auswitz 2- Birkenau en Auswitz 3- Monowitz, asook meer as 40 sub kampe. Die oorspronlike rede vir die stigting en die oprigting van die kampe was omdat die plaaslike tronke se kapasiteit nie voldoende was om die massa arrestasies van Pole te kon akkommodeer nie. Sowjet krygsgevangenes en Sigeuners asook ander nasionaliteite is later ook hier gevange gehou, saam met die Pole. Die kamp het met die aanvang van 1942, die toneel geword van die grootste massamoord in die mens se geskiedenis, toe die Jode van Europa se slagting begin. Die meerderheid van Jode wat na Auswitz deporteer is, is onmiddelik na hul aankoms (mans, vroue en kinders) na hul dood gestuur in die Birkenau gaskamers. Daar word beraam dat bykans 1,5 miljoen mense na die gaskamers is en daar resterf het (1,100,000 Jode, 150,000 Pole, 23000 Sigeuners en sowat 10,000 ander).
Tydens ‘n onlangse Preektoer in Pole (September 2011) het ek dienste waargeneem in verskeie kerke, wat ook die kerk in Aswiecim ingesluit het. Ek het die voorreg gehad om twee van die drie kampe te kon besoek. Dit was ‘n ongelooflike ondervinding om deur die kampe te stap en die gaskamers, barakke, en tronke te besoek, en om die pyn van die verlede te aanskou. Ek het verskeie kere iets gesien wat my laat dink aan die feit dat ons soms iets sê, maar in werklikheid iets heeltemal anders bedoel.
‘n Nuwe begin
Mense is van oral oor Duitsland, Pole, Oostenryk en vele ander lande na Aswiecim gebring met die belofte van ‘n nuwe begin in ‘n nuwe land. Die gevolg is dat mense al hul kosbaarste klere, juwele en ander items saamgebring en geglo het hulle is op pad na ‘n lewe. Met hul aankoms was daar egter geen nuwe begin nie, net enorme harde werk in kampe, tronkkampe met harde werk, min voedsel, geen vryheid, gaskamers en die dood.
Arbeit macht frei (Arbeid maak jou vry)
Die inskripsie op die ingangshek na Auswitz 1 dui aan dat werk jou vry maak. Met hul aankoms daar is mense gevange gehou waar daar in sommige barakke tot ‘n 1000 mense moes slaap op papiermatrasse en ‘n maaltyd ontvang het van ongeveer 1,500 kaloriee per dag terwyl hul uiters hard moes werk en swaar gestraf is vir onbenullighede. Vry was hul beslis nie en sommiges het hulself dood gewerk, en ja, was toe wel vry, maar eers na hul dood.
‘n Stort en bietjie sop
Met hul aankoms by Auswitz 2 – Birkenau, na ‘n lang uitmergelende treinrit, is daar aan die prisoniers gesê dat hulle almal kan stort en daarna warm sop sal kry.Hulle moes dan in in twee rye voor die dokter staan wie dan kies wie onmiddelik storte toe kan gaan en sop kry, terwyl ander na die barakke geneem is. By die storte moes almal van hul klere ontslae raak, in die stortkamer ingaan, en is hulle vermoor deur gas inaseming en verbrand.
Dit het my laat dink aan: Die kinders van Israel wat na die profeet Jeremia (Jer 42) gegaan en aan hom gevra het of hulle in Israel moet bly of na Egipte trek. Hul het die profeet se advies gevra en bevestig dat hulle sal gehoorsaam wat God ookal aan hom sou openbaar. Jeremia het gebid tot God, en na 10 dae die antwoord gekry. Hy het die mense gesê om nie na Egipte te gaan nie, maar die leierskap wou nie na hom luister nie, en het besluit om tog na Egipte te gaan. Dit blyk asof hul reeds vooraf besluit het wat om te doen, nog voordat hul Jeremia genader het om van God te verneem wat hulle te doen staan. Hulle het een ding gesê, en iets heeltemal anders bedoel. Hul wou alleenlik God se goedkeuring hê vir ‘n reeds gemaakte besluit. Hul verstand was met Hom, maar definitief nie hul harte nie. Ons lees in Jesaja 30 vers 1: “Wee die opstandige kinders, spreek die Here, wat ‘n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat ‘n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel”.
Die Here Jesus het nooit iets aan ons gesê wat Hy dan nie gedoen het nie. Die Bybel is vol van Sy beloftes en seën wat Hy ons wil skenk. Hy het homself as getrou bewys, tot so ver as om aan die kruis te sterf. Hy is die Weg, Waarheid en Lewe (Joh 14) en bedoel altyd presies wat Hy sê.
Ons moet baie versigtig wees om in ons daaglikse omgang met andere ons ‘ja’ as ‘ja’ te bedoel en ons ‘nee’ moet ‘nee’ beteken.Ons mag onsself nie mislei nie. Ons moet daarop let dat, wanneer ons iets sê, dit beslis is wat ons bedoel, en nie iets anders wat misleidend is nie. |