|
Verdraagsaamheid!
’n Sigbare en tog onsigbare instrument in God se Hand
Liesbet is vir ons goud werd. Sy is die ruggraat van ons huishouding. Sy help in die huis, was en stryk ons klere en maak die heerlikste krummelpap. Liesbet woon noord van Pretoria. Sy het een seun en ’n kleinseun, maar versorg ook haar ma, tante, twee niggies en twee blanke tienermeisies (met die goedkeuring van maatskaplike dienste). Hulle woon almal saam in haar drievertrekhuisie. Sy het nou onlangs in ’n nuwe huis en area ingetrek weens haar behoefte aan meer ruimte en ook om hulle lewensomstandighede te verbeter.
Die maatskaplike dienste maak ’n klein maandelikse bydrae omdat sy gewillig was om die vier tienermeisies in te neem en vir hulle te sorg. Sy werk baie hard en die Here onderneem en voorsien deur verskeie mense in hulle behoeftes. Hy het reeds vir haar meubels, ’n yskas, stoof, televisie en beddens wat sy nodig gehad het, voorsien.
Sedert 18 Mei is haar hele woonbuurt egter sonder krag. Die yskas en stoof werk nie. Daar is geen warm water om in te bad nie en die koue winter is om die draai. Sekere kwajongens het uit protes teen swak dienslewering, op stemdag al die elektriese kabels van die omgewing gesteel. Of dit nou reg of verkeerd was, die herstel daarvan sal etlike weke duur. Intussen skep dit ’n krisis vir almal.
Ek en my vrou het haar op 19 Mei na Builder’s Warehouse geneem en alle moontlike opsies ondersoek sodat sy nie nodig het om nog een nag sonder krag en hitte hoef klaar te kom nie. Ek sien die verslaentheid op haar gesig en die bekommernis oor haar mense tuis wat van haar afhanklik is. My hart gaan uit na haar, maar terselfdertyd is ek vies, kwaad en teleurgesteld in mense wat nie regtig omgee wat hulle aan ander doen nie.
Waar trek ons die streep? Is ons geregverdig om vies en kwaad te word? Waarom gebeur sulke dinge? Gee mense net nie meer vir mekaar om nie? Waarom laat die Here dit toe? Wat is die doel daarvan? Wat moet ons reaksie daarop wees? Moet ons regtig verdraagsaam wees?
Die Griekse woord vir verdraagsaam in die Bybel is die woordjie, anektos. Dit beteken en dui op “om omhoog te hou” (to hold up) of “om uit te hou” (to endure) en word dikwels gelees in verband met vervolging, verdrukking en swaarkry (2 Thes 1:4) of selfs valse leraars en leringe (2 Tim 4:3).
Wat is die doel van verdraagsaamheid?
Jakobus skryf dat ons dit louter vreugde moet ag wanneer ons in allerhande versoekinge val omdat dit lydsaamheid bewerk wat daartoe lei dat ons volmaak kan wees en in niks kortkom in ons geestelike lewens nie (Jak 1:2-4). Wanneer ons dus uithou (anektos) te midde van swaarkry, vervolging en verdrukking, werk die God van vrede (Heilige Gees) in ons harte en in ons lewens sodat ons volmaak (katartidzo) kan wees in elke goeie werk en om ook Sy wil te doen en voor Sy aangesig welbehaaglik te wees (Heb 13:20-21).
Die woord katartidzo, beteken:
-
Om ’n gebreekte been te spalk (Mediese term)
-
Om ’n geskeurde net heel te maak (Vissermanstaal)
-
Om ’n skip uit te rus vir ’n vaart (Matroos)
-
Om ’n leër toe te rus vir die stryd (Soldaat).
Die Here Jesus wil ons toerus vir ons lewe hier op aarde te midde van ons omstandighede en swaarkry. Hy wil die gebreekte bene in ons lewens spalk sodat ons reguit kan loop en die lewensreis suksesvol kan aflê. Hy wil ons nette heelmaak sodat ons beter vissers van mense kan wees en siele kan wen. Hy wil ons toerus vir die stryd en uitrus sodat ons nie deur die storms van die lewe plat gemoker kan word nie. Hy wil ons ryp maak sodat Hy in en deur ons kan werk om Hom te behaag en Sy wil te volbring.
Hoe doen die Here dit?
Watter instrumente gebruik Hy om my te leer uithou en nie, te midde van my omstandighede, op te gee nie? Hy gebruik:
- Woord van God (2 Tim 3:16-17)
- Gebed (1 Thes 3:10)
- Gemeenskap van die Gelowiges (Ef 4: 11-12)
- Individuele Gelowiges (Gal 6:1)
- Swaarkry (1 Pet 5:10).
Die Here leer ons om meer verdraagsaam te wees teenoor andere of om meer verdraagsaam te wees in ons huidige omstandighede. Hy leer ons om uit te hou en te volhard, terwyl Hy besig is om ons te verander sodat Hy ons nog meer kan gebruik. Ek sien en leer verdraagsaamheid, maar God sien volharding, bereiking en uitvoering van Sy wil en ’n veranderde hart en lewe. Hy kan dus selfs kwajongens wat elektriese kabels steel, ’n ekonomiese krisis en politiekery gebruik om Sy uiteindelike doel met ons en deur ons te bereik.
Verdraagsaamheid of die gebrek daaraan, is ’n sigbare en tog onsigbare instrument in die Hand van ons Here. Al verstaan ek nie altyd waarom dinge gebeur of waarom die Here dinge toelaat nie, is my gebed egter: Here maak my volmaak in elke goeie werk om U wil te doen. Werk in my en help my om te verdra en te volbring wat welbehaaglik is in U oë. Amen.
Francois Carr |