|
Herlewing in die plaaslike kerk begin op God se terme, nie net omdat ons dit wil hê nie. Hoe berei ons ons dus voor sodat God tydens herlewing tussen ons kan beweeg? Miskien moet ons vra hoe die krag van God op die vroeë Kerk gekom het.
Kyk bietjie na Hand 4:31 – Toe hulle gebid het, is die plek waar hulle vergader het, geskud; hulle is met die Heilige Gees gevul en hulle het onverskrokke die Woord van God verkondig.
GOD REAGEER OP GEBED
As God se kinders saam vergader is om Hom te soek en na Hom uit te roep in gebed, reageer Hy. Gebed behoort die natuurlike reaksie van Sy kinders in tye van nood te wees. Dit is juis as die Kerk saam vergader is en Hom in ywerige gebed soek dat Hy met krag beweeg en reageer. Een in hart en sin het hulle na God gesoek, na Hom gekyk, na Hom uitgeroep – en Sy krag ervaar. Hand 4:32-33 sê verder dat hulle een van hart en een van siel was en groot krag en groot genade het oor hulle gekom.
Indien die Heilige Gees in ‘n plaaslike kerk teenwoordig is, is die bewyse vir almal daar om te sien en ervaar. Daar is vrymoedigheid in die getuienis van die Waarheid van Sy Woord; daar is groot krag om lewens te laat verander; daar is groot genade onder die mense. Het julle behoefte aan God se vars aanraking in julle gemeente? Dit begin met gebed.
DIE VROEË KERK
Met die groei van die vroeë kerk het baie behoeftes ontstaan wat aangespreek moes word. Die apostels was egter vasbeslote om die voorkeure van ‘n gesonde kerk te onderhou. In Hand 6:4 verklaar hulle onverskrokke dat hulle voortdurend sal bid en die Woord bedien.
Die apostels het onder geen omstandighede tyd in die Woord en gebed gekompromitteer nie! Dit was hul eerste prioriteit. Hulle het baie goed besef dat die verlossing van die wêreld ontsaglik baie te doen gehad het met hul persoonlike en gesamentlike wandel met God. Duisende het op hul leierskap gesteun. Hulle kon egter nie God se handelinge of Sy doelstellings vir hulle verstaan as hulle nie baie tyd saam met Hom spandeer het nie. Hulle was, as kerkleiers, nie die Hoof van die liggaam van Christus nie, Christus was. En hulle het ‘n Woord van Hom nodig gehad.
GOD SE VERMOEËNS
God skud waarskynlik telkens Sy kop wanneer mense besluite neem oor wat hulle kan doen. Die werk in die Koninkryk hang nie af van ons vermoeëns nie, maar God s’n. Gebed is ons belydenis aan Hom dat ons absoluut alles in Hom het en dat ons sonder Hom net mooi niks is of kan doen nie. Gebed is ‘n reaksie op ons besef dat ons Hom nodig het.
Ek glo vas dat die gevaarlikste ding vir enige kerk is om suksesvol te wees. Wanneer jy niks het nie, is dit maklik om na God te roep en Hom te soek met jou hele hart. Hy is al wat jy het. Vandag beskik kerke oor pragtige geboue, gevorderde tegnologie, toegang tot finansiële bronne, talentvolle mense, betaalde pastorale personeel en hulle kan in vrede funksioneer sonder die vrees vir vervolging van die gemeenskap. Indien God van ons kerke sou wegloop, sou ons organisasies waarskynlik nog kan voortgaan. Ons maak dikwels die fout om die draai van die masjien met die wind van die Gees te verwar en aan te neem dat God steeds betrokke is.
WAT SIEN DIE WÊRELD
Die wêreld sien goeie mense wat goeie dinge vir hulle God doen, maar hulle sien Gód nie. Die vroeë Kerk het net vir God gehad en het die wêreld vir God omgekeer. Daar was geen kweekskole, geboue vir aanbidding, Bybels vir elkeen, klankstelsels en mediatoerusting, beroemdes wat hul saak steun of die vryheid om hul geloof in Jesus Christus te bevorder nie. Hulle was net gewone mans en vrouens, onbekend en onbelangrik, wat teen baie sterk teenstand en haat te staan gekom het. Golwe vervolging het oor hulle gespoel; tog was hulle oorwinnaars. Hulle het na God geroep – dit was deel van hul lewenswyse – en Hy het gehoor en verhoor.
GELOWIGES MET HUILENDE HARTE
James A Stewart het eens verklaar dat Herlewing nie is om in die straat af te stap en tromme te slaan nie, nee, dit is gelowiges wat met huilende harte terugkeer na Golgota.
Waanneer ons nie meer besef dat ons God baie nodig het nie, is daar moeilikheid. Wanneer die kerk oor alle nodige bronne beskik, is die kans groot dat hulle selfgenoegsaam kan word en God nie meer nodig het nie.
GOD VAN DIE GROOT HEELAL
Jesaja 55: 8-9 sê: “My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie My paaie nie,Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en My gedagtes hoër as julle gedagtes.” Hiervolgens sal selfs ons beste idees vir die kerk nooit naby God se idees kán kom nie. Aanvaar dit. Ons kan God nie ‘uitwerk’nie. Hy is ons Skepper. Die onbeduidende skepsel kan nóóit die Skepper van die heelal verstaan nie!
Dit is presies waarom God aan die profeet Jeremia gesê het: “Die Here het die hemel en die aarde gevestig. Hy is bekend as die Here. Dit is Sy boodskap: Vra My, en Ek sal antwoord gee. Ek sal jou ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim, en jy weet niks daarvan nie.”Jer 33:2,3.Wat ‘n belofte! Roep My aan! Die God wat die hemel en die aarde gemaak het, die Een wat die Alfa en die Omega is, die Een wat nasies vestig en tot ‘n val bring, wat die lotgevalle van mense beslis, wat weet wat die toekoms vir elkeen inhou,Hý sê ons moet Hom aanroep en Hy sál die onmoontlike laat gebeur! Hy sal doen dit wat ons nie eens kan droom nie!
Herlewing kom na die plaaslike kerk wanneer mense besef dat hulle deel van die liggaam van Christus is en hulle roep Hom, die Hoof van die liggaam, aan. Leonard Ravehill het gesê: “The Church has many organizers, but very few agonizers; many who pay, but few who pray; many resters, but few wrestlers; many who are enterprising, but very few interceding. People who are praying and praying, and praying! The secret of praying is praying in secret!”
VROEË KERK WAS EFFEKTIEF
‘n Wêreldse Christen sal ophou bid, maar ‘n biddende Christen sal wêreldsheid laat ophou. Tiendes mag ‘n kerk bou, maar trane sal dit lewe gee. Dít is die groot verskil tussen die moderne kerk en die vroeë kerk, want nog nooit het só baie dit aan só min oorgelaat nie!
Laat ons BID! [1133 woorde]
MEL BLACKABY is tans die Senior Pastoor by FBC, Jonesboro, VSA. Skakel hom by www.Balckabyministriesinternational.co.za |