Weerstand teen Huisgodsdiens? PDF Print E-mail
Gebed
Written by Francois Carr   

Ons oupas en oumas het nog van huisgodsdiens as ‘boekevat’ gepraat.  Almal in die huis het geweet wat gaan gebeur as oupa sê: ‘Laat ons boekevat’.   ’n Plaaslike musikant het nou onlangs  in Pretoria ’n pragtige musiekstuk gespeel op ’n klein antieke huisorreltjie.  Die orreltjie het behoort aan Paul Kruger, eertydse president van Suid-Afrika.  Die huisorreltjie is gebruik  wanneer hulle daagliks as huisgesin uit die Bybel gelees, gesing en saamgebid het.  Gesamentlike aanbidding en huisgodsdiens was so deel van ons ouers en voorgeslagte se lewens, en dit was iets wat daagliks as prioriteit beoefen is en sigbaar was vir almal om te sien.


Dit het heeltemal verander en huisgodsdiens is egter nie meer ’n prioriteit nie en is nie vandag  deel van ons lewe of daaglikse roetine nie. Dit het skaars geword en diegene wat nog saam lees en bid is in die minderheid.  In sommige gevalle bestaan dit glad nie meer nie.    

Kan dit wees dat ons as ouers toegelaat het dat die dinge wat regtig vir ons saakmaak so onder ons neuse spontaan plekgemaak het vir die genot en luuksheid van die tydelike?  

Kan dit wees dat ons as ouers die wereld toegelaat het om ons te vorm in ’n nuwe geslag en generasie wat nie meer as huisgesin so opmerklik tyd maak vir God in ons lewe nie.   

Intimiteit met God

God het ons geskape en nooi ons sodat ons ’n persoonlike verhouding met Hom kan geniet en daagliks kan ervaar en beleef. In die Ou Testament het die volk Israel se harte verhard en het hulle teen God gesondig.  Die profeet Jeremia noem dat die rede daarvoor is omdat die volk twee verkeerde dinge gedoen het.  Hulle het die fontein van lewende water verlaat het en vir hulself houers gemaak het wat nie water kan hou nie (Jeremia 2).  Hulle het ‘n verhouding met God vervang met iets anders.  In die Nuwe Testament het die gemeente van Efese se harte verkoel. Alhoewel hulle gearbei het, weerstand gebied het en selfs verdrukking gelei het, betugtig die Here Jesus hulle.  Hy hou dit teen hulle dat hulle hul eerste liefde verlaat het (Openbaring 2).  

Ons harte is stadig maar seker besig om weg te dryf van die Here Jesus (ons kom dit nie eers agter nie) en ons vervang dit met iets anders.   Kan dit wees dat ons ‘n intieme liefdesverhouding met die Here Jesus vervang het met geestelike aktitwiteite of selfs die nood om te kan oorleef in die huidige ekonomiese krisis ?  In sommige gevalle verkoel ons harte weens die toename van ongeregtigheid in ons samelewing (Matt 24).  Dit raak al moeiliker vir ons om as Christen te funksioneer terwyl alles in die media en samelewing daarop gerig is om ons lewens en harte te vul met dit wat hulle kan bied.   Die gevolg:

-    Ons verlaat ons eerste liefde.  
-    Ons harte begin verkoel en dryf weg van Hom af.
-    Ons begin afvallig word van Hom en laat sonde en begin verkeerd lewe.
-    Ons hart en lewe word gevul met die dinge van die wereld en soms selfs goeie dinge as plaasvervanger vir Hom.
-    Ons fokus en prioriteite verander.  
-    Ons is te besig. Baie huisgesinne bevind hulle vandag in die posisie waar altwee ouers moet werk om sodoende genoeg te verdien om te oorleef in die huidige ekonomiese krisis.  Ouers is van vroeg tot laat by die werk en die aftye word ook gevul met allerhande aktiwiteite.  Daar is net nie meer tyd nie.
-     Ons program en dag is oorvol.  Elke lid van die gesin se dag is gevul met  verpligtinge en projekte waar die afsprake en tye bots en dit baie moeilik word om tyd te vind waar gesinne saam kan wees.
-    Ons woorde weerspreek ons lewe.  Gesinslede word ook soms verwar deur die dinge wat ons se of doen.  Hulle is nie gewillig om ons te volg waar ons een ding se, maar ‘n ander doen nie.

Die Here verlang  dat ons opnuut weer kyk na ons hart, en na ons program sodat ons kan terugkeer na ons eerste liefde en Hom weer deel maak van ons daaglikse lewe en roetine.