Christene regoor Suid-Afrika vier hierdie jaar die 150ste herdenking van die merkwaardigste herlewing in die Kaap ooit. Geen mens kan egter van hierdie herlewing praat sonder om op die enorme rol wat Andrew Murray daarin gespeel het, te fokus nie.
‘N GEESTELIKE WILDERNIS
Die Kaapkolonie was voor 1860 ‘n geestelike wildernis. Die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (HOIK) het die aanstelling van predikante en die vestiging van gemeentes aan die Kaap beheer. En tog, in die eerste 150 jaar van Hollandse regering aan die Kaap, is daar slegs vyf gemeentes gevestig – almal binne ‘n 130-km-radius vanaf Kaapstad. Die meeste boere en Trekboere het geen toegang tot pastorale leiding of kerkdienste gehad nie. Veel erger egter, was die feit dat baie min mense in die Kaap op daardie stadium nog Hollands as taal gebruik het en tog het die regering nie hulle spreektaal, Afrikaans, waardig genoeg geag om kerkdienste, preke of selfs persoonlike godsdiens daarin toe te laat nie.
Dit het tot gevolg gehad dat kerkdienste baie geforseerd was en die gemiddelde kerkbywoner kon skaars verstaan wat in Hooghollands van die preekstoel gesê is. Hulle kon ook nie gemaklik bid nie, want hulle taal was nie meer dieselfde as wat van die preekstoel gehoor is nie. Selfs die Hollandse Bybel was moeilik lees- en verstaanbaar.
GEESTELIKE VERLAMMING TREE IN
Dit is dus nie verrassend dat daar ‘n absolute geestelike verlamming ingetree het nie. Nicolaas Hofmeyer was raad-op met die gebrek aan reaksie van sy gemeente in Calvinia. Hy kon in die ses jaar wat hy daar was, nie een enkele lidmaat kry om die gebedsbyeenkoms by te woon nie. Hy het ook ‘n intense weerstand teen sendingwerk ervaar.
DOODSE LIBERALISME
Gotlieb Van Der Lingen se ouers was Hollandse sendelinge. Sy pa was die kapelaan van die Kaapse Korps. Hyself het Teologie aan die universiteit in Utrecht studeer. In sy eerste diens in die Grootte Kerk in Kaapstad het hy teen die opkoms van Liberalisme gewaarsku en die mense opgeroep om weer terug te keer na die Bybel as die enigste Woord van God. Hy het ook Christelike skole voorgestaan, maar was uiters teleurgesteld dat nie een enkele kerk gereageer het op sy aanbod om hulle by te staan in die proses om ‘n Christelike opvoeding daar te stel nie.
DIE TAALGRENS
Die Britte het in 1795 in die Kaap geland en het met ‘n baie ernstige Verengelsingsbeleid gekom. Geen Afrikaanse skole was beskikbaar nie en kerke mag nie Afrikaans tydens die dienste gebruik het nie. Hierdie beleid was die vonk vir die ongelooflikste Geestelike Herlewing ooit wat hierdie probleem uit die weg geruim en Afrikaans as Nasionale Taal gegrondves het.
INSPIRASIE UIT SKOTLAND
Omdat die Britte Hollands uit die skole en regering geban het, is die gemeentes na Skotland verwys vir predikante. Die aankoms van 11 gereformeerde predikante uit Skotland, gelei deur Andrew Murray Senior, het ‘n hele nuwe era ingelui. Andrew Murray Senior is na die gemeente in Graaff Reinet gestuur en is op 9 Mei 1828 daar met Maria Stegmann getroud. Wat die Britse regering nie verwag het nie, was dat die Skotse Predikers Hollands sowel as Afrikaans sou aanleer en, i.p.v. die Kaapkolonie heeltemal verengels, het God hulle kragtig in die gemeenskap gebruik en só hul geloof versterk.
BID VIR HERLEWING
Andrew Murray (jnr.)se pa het vir 36 jaar lank elke oggend, sonder uitsondering, vir herlewing gebid. Toe Andrew 10 was, is hy vir skoolopleiding Skotland toe gestuur en hy het vir 7 jaar by sy oom, ds John Murray, in Aberdeen gebly. Hier het hy in aanraking gekom met van die kragtigste Hervormingspredikers, o.a. Dr. Chalmers en William Burns. Nadat Andrew en sy broer John, hul M.A.-grade in 1845 behaal het, is albei na Utrecht vir teologiese studies en ook om Hollands ten volle te kon bemeester.
VOORTREKKER-PREDIKANT
Toe Andrew na sy studies na die Kaap terugkeer, was hy maar slegs 20 jaar oud. Kerkwette van daardie tyd het bepaal dat enige predikant 22 jaar oud moet wees voordat ‘n gemeente aan hom toevertrou kon word. Sir Harry Smith, die goewerneur, het hierdie reël ietwat gebuig en Andrew toegelaat om die Voortrekkers wat tussen die Oranje- en Vaalrivier was, te evangeliseer. In dié gebied was daar ongeveer 12 000 Voortrekkers wat sedert hulle die Kaap verlaat het, sonder die dienste van ‘n predikant moes klaarkom.
SENDINGREISE
As die eerste predikant van die Voortrekkers, was sy hoofkwartier in Bloemfontein. Hy moes egter voortdurend reis om by almal in sy groot gemeente uit te kom. Hy het ook vier sendingreise na die Voortrekkers in Transvaal onderneem. Hy het baie gou geleer om sy preke eenvoudig, logies en prakties te hou en omdat hy die enigste predikant vir die Voortrekkers was, is hy in ‘n leierskapsrol inforseer. Sy vinnige ingrype het ‘n bloedvergieting verhoed toe hy as onderhandelaar tussen Andries Pretorius en die Britse regering opgetree het. Dit het gelei tot die ondertekening van die Sandrivier Konvensie in 1852. Dit het ook gelei tot die erkenning van die onafhanklikheid van die Oranje Vrystaat.
TYDPERK VAN KARAKTERBOU
Andrew het sy 11 jaar as predikant van die Voortrekkers as waardevolle opleiding vir sy lewenslange bediening beskou; dit het ook sy karakter gebou en versterk . Sy preke was, a.g.v. hierdie leerskool, kragtig en sy optrede in alle situasies baie beslis. In die tyd het hy baie bewus geword van die geestelike nood in die grootste deel van die land. In een van sy dagboeke lees ons: “…nothing but God’s mighty Spirit is able to conquer the deep enmity of the unconverted hearts.”
OPLEIDINGKRISIS
Andrew Murray het gesukkel om Christenskole in die Vrystaat gevestig te kry. Hy het probeer om onderwysers uit Holland te werf, maar het weerstand uit alle oorde beleef. In desperaatheid het die Nederduits-Gereformeerde Kerk ds John Murray, Andrew se broer, aangestel om ‘n kweekskool op Stellenbosch te vestig. John het sy twyfel oor die wysheid van hierdie stap uitgespreek waarop sy pa, Andrew (snr.) hom uitgedaag het: “Are you willing to place your life on the line for this great task?” Hy het onomwonde geantwoord: “Yes!” Hy het hulp by Nicolaas Hofmeyer en Johan Neetling gesoek en die Stellenbosch Kweekskool is in die lewe geroep.
OPROEP TOT GEBED
In Augustus 1859 het hierdie drie predikante van die N.G. Kerk ‘n uitdaging aan alle predikante gerig om ‘n preekreeks oor die karakter van God, die rol van die Heilige Gees en die nodigheid van individuele en gesamentlike gebed vir die uitstort van die Heilige Gees, te hou. “We earnestly beseech you to faithfully and fervently pray one hour every week – with others or alone – that God, by His Grace, may visit our land and give us the blessing of the outpouring of the Holy Spirit.” ‘n Boekie, The Power of Prayer, het in 1859 verskyn en artikels oor Gebed en Herlewing is gereeld in De Kerkbode en De Wekker gepubliseer. Die deursnee-lidmaat was egter, t.s.v. die entoesiasme van die predikers, baie apaties en ongeïnteresseerd. Die biduur in Montague het voor Mei 1860 nooit meer as drie bidders gehad nie! Een toegewyde bidder het egter ‘n voetpad na die heuwel buite die dorp uitgetrap en gereeld vir herlewing gebid.
DIE WORCESTER-KONFERENSIE
Andrew Murray het ‘n beroep na die gemeente in Worcester ontvang ten tye van die kerkkonferensie waarop herlewing bespreek sou word. 374 besoekers vanaf 20 gemeentes, insluitend 8 van die Murray-familie, het opgedaag. Die konferensie het op 18 April begin en die Skrifgronde vir herlewing is uitgestippel. Volgens C. Rabie, ‘n tiener by die konferensie en later ‘n predikant van die N.G. Kerk, het die herlewing by die konferensie begin. Hy skryf: “Ds. Murray (jnr.) se deelname aan die eerste helfte van die konferensie was beperk tot een gebed, maar was só kragtig en belaai met emosie, dat mense tot diepe sondebesef gekom het. ‘n Mens kan met vrymoedigheid sê dat herlewing dáár begin het.”
PINKSTER IN WORCESTER
Andrew Murray se bediening in Worcester het op Pinkstersondag – 27 Mei – begin en sy preek was oor Die Bediening van die Heilige Gees. Rabie skryf weer: “Dit was asof een van die profete van ouds uit die dood herrys het. Die onderwerp was bekering en geloof …doodernstig.”Murray het tydens Pinkster gepreek oor: “Wat beteken jy, slapende? Staan op en roep tot God.” Jona 1:6; “Hy wat nie glo nie, sal verlore gaan.” Mark 16:16 en “Vriend, waarom kom jy hierheen sonder jou bruilofskleed?” Matt 22:12. Nog nooit vantevore is sulke reguit, skokkende, Bybelse boodskappe gebring nie. Die herlewing in Worcester het soos ‘n vuurgloed gekom.
OOGGETUIEVERSLAG
Een van die predikante wat die herlewing beleef het, Servaas Hofmeyr, het geskryf dat die dae voor hierdie herlewing gekenmerk is deur liefde vir die wêreld en sonde, geen begeerte tot Redding nie en ledigheid. Toe die Here onder sy mense begin beweeg, was die gebede intens…”Red my o God, ek is verlore!” en die getuienisse was hartverskeurend. Gesigte is gesien, gesamentlike gebede is selfs in die oop veld gedoen, oud en jonk sou op hul knieë neersak en om genade smeek. Al hierdie dinge was onverwags – alles die werk van die Heilige Gees – en nie net vir ‘n dag nie, maar vir maande lank.
ONUITSPREEKBARE VREUGDE
Gebedsbyeenkomste is skielik baie goed bygewoon, vol vuur en erns. Vroeg en laat het mense singend na Sy huis opgegaan. Daar was sondebelydenis, wedergeboorte en nuwe lewe! Die geloofslewe het ‘n innige verdieping ondergaan. Van die eerstes wat deur hierdie herlewing aangeraak is, was die kleurlingplaaswerkers van die omgewing. Hulle het in groot groepe op hul knieë neergesak en om genade gesmeek. Andrew Murray is eers onverhoeds betrap deur hierdie emosionele en skynbaar onordelike optrede. Sy kennis van Herlewing was beperk tot die oormatig-ordelike optrede van die Skotte. ‘n Vreemdeling het egter hierdie woord van waarskuwing aan hom gerig: “Wees versigtig hoe jy hierdie saak hanteer, want hier is die Gees van God aan die werk.”
ONDERSKEI TUSSEN WARE EN VALS HERLEWING
Na hierdie waarskuwing het Andrew volledig met die Herlewing geïdentifiseer en het enige skeptiese kritikus in die woorde van George Whitfield geantwoord: “If you try to stamp out the wildfire and remove what is false, you will equally and simultaneously remove what is real.” Nicolaas Hofmeyr het gemeld dat daar ‘n gees van nederigheid onder die mense geheers het. Almal het hulself gesien as armsalige sondaars wat nie self in staat tot die goeie was nie. Gebed het toegeneem en ernstiger geword – alles die kragtige werk van God se Gees.
PLATTELAND OOK AAN DIE BRAND
Montague en Calvinia, plekke waar die weerstand teen kerklike aktiwiteite in die verlede voelbaar en duidelik sigbaar was, het ‘n buitengewone uitstorting van die Heilige Gees beleef. ‘n Oorweldigende gebedsbehoefte het by die mense ontstaan en bidure is gereeld gehou.
SALWING BAIE DUIDELIK
Ds Henry Taylor van die Presbiteriaanse Kerk in Wellington het in sy verslag oor Andrew Murray se prediking geskryf: “His whole being is thrown into the task and he glows with the fervency of The Spirit which it seems impossible for human flesh to sustain…audiences bend before the sweeping rain of his words, like willows before the gale. The heart within the hearer is bowed and the intellect is awed.” Andrew het uitnodigings ontvang om by konferensies te praat en by ander gemeentes te preek.
GEESTELIKE HONGER NEEM TOE
Die Geestelike honger in die land het toegeneem en Andrew moes noodwendig dissipelskapopleiding aan wedergeborenes gee – dit het aanleiding gegee tot sy groot geskrewe skatkis: The Children for Christ; Abide in Christ; The Two Covenants; The New Life; The Full Blessing of Pentecost; Holy in Christ;The School of Obedience; The School of Prayer; The Ministry of Intersession; Pray without Ceasing; Absolute Surrender; Waiting on God and Like Christ. Hy het een van die mees gerespekteerde Christelike outeurs oor die dieper geestelike lewe geword en meer as 200 boeke, boekies en pamflette het uit sy pen verskyn. Dit is ook in verskeie ander tale vertaal en word al vir meer as 100 jaar gereeld gepubliseer. In sy eie woorde in een van sy dagboeke: “A Revival of Holiness is what we need. We need preaching about Christ’s claim on us that will lead us to live entirely for Him and His Kingdom.”
DIE KAAP BUIG VOOR CHRISTUS
Die Evangeliese Alliansie het ‘n landswye oproep aan kerke in die Kaap gerig om gedurende Januarie ‘n week vir gesamentlike gebed opsy te sit. Die Kaap was toe letterlik op hul knieë voor die Almagtige. In Januarie 1861 het Herlewing deur die Paarl geswiep toe ds Gottlieb Van Der Lingen sy gemeente opgeroep het om wakker te word voor die groot Verskyning voor die Troon in die hiernamaals. Die kerkgebou het later te klein geword vir die skares wat opgekom het om te bid en verskeie bidure moes gehou word. Lidmate van die Paarl-gemeente het gewroeg met selfondersoek, sondebelydenis gedoen en volledig aan Hom oorgegee. Van Der Lingen het self uitgeroep: “Hoeveel jaar het ek Hom nie gedien as dienaar nie! Maar wat ‘n verskil om Hom te dien as seun! Nou verstaan ek die verskil.
In Mei 1862 het ds Van Der Lingen voorgestel dat die gemeente ‘n Pinksterreeks moes hou tussen Hemelvaartdag en Pinkstersondag. Hierdie gebruik het oorgespoel na die ander gemeentes in die provinsie en word vandag nog in die N.G. Kerk gehou.
In Graaff Reinet het die Herlewing in April 1861 uitgebreek. Tydens ‘n biduur wat na die Nagmaaldiens van die Sondagaand gehou is, is die teenwoordigheid van die Heilige Gees in só ‘n mate beleef dat hulle sonder ophou gebid het tot die Dinsdagmiddag. Eers toé het die gemeentelede uitmekaar gegaan.
DIE VRUG WORD BELEEF
Die N.G. Kerk in die Kaap het vir altyd verander. Van die vroegste tye af was daar ‘n ernstige tekort aan predikante, maar ná die kragtige uitstorting van die Heilige Gees, het meer as 50 jongmans na vore gekom om as predikante opgelei te word. Selfs die weerstand teen sendingwerk het verdwyn.
OPOFFERENDE DIENS
Andrew Murray het Paul Kruger genader om die N.G. Kerk te help met die vestiging van ‘n sendingstasie in die Soutpansberg-gebied. Toe die eerste sendingpaar, Alexander en Hessie McKidd, van koors sterf, het ‘n toetstydperk vir die kerk aangebreek. Stefanus Hofmeyr het getrou vir meer as 10 jaar onder die omliggende stamme in die Soutpansberg-gebied gewerk en baie toordokters en moordenaars is bekeer.
EVANGELISASIE
Ten spyte van intense Geestelike oorlogvoering en voortdurende aanslae van die liberale element in die N.G.Kerk, het Andrew Murray ‘n baie bekende outeur, internasionale evangelis en die Moderator van die N.G. Kerk geword. Hy het die Afrika-instituut gestig wat gesorg het dat honderde sendelinge in Afrika uitgestuur is. Hy was ook die pionier van vroue-onderrig in Suid-Afrika en die Hugenote Opleidingskollege vir Christenonderwysers het deur sy toedoen ontstaan.
AFRIKA VIR CHRISTUS
Die sendingvisie van die N.G. Kerk het ontplof en sendingstasies is in Masjonaland, Matabeleland, Betsjoeanaland, Nyasaland, Nigerië en Soedan opgerig. In 1927 het die Sendingkomitee van die Kaapse N.G. Kerk 304 dienende sendelinge en 72 079 gedoopte Christen-Afrikane op hul verslagboeke gehad. Hierdie sendelinge het 1 447 skole met 2 699 onderwysers en 96 309 leerders gevestig.
Afrikaans is in 1925 amptelik as kerktaal erken en het ook gelyke status as landstaal verkry. Die eerste volledige Afrikaanse Bybel het in 1933 die lig gesien.
ANDREW MURRAY SE OPDRAG VIR JOU
Andrew Murray het geskryf: “Live in the bold and Holy confidence that God is able to bless His Church through you…God is really only waiting for prayer in order to give the blessing.” Bid ons vandag nog ernstig genoeg?
[2595]
DR PETER HAMMOND, sendeling, outeur en konferensiespreker. E-pos:mission@frontline.org.za; www.frontline.org.za. Skakel hom by 021 689 4480.
PQ’S:
Sonder die vermoë om uit jou hart uit te bid, gryp jy na vaste uitdrukkings en formules. Dit het dan ‘n kragtelose gebed tot gevolg.
Die Geestelike Herlewing het direk aanleiding gegee tot die vestiging van Afrikaans as Nasionale Taal en ook as kerktaal.
Is jy bereid om jou lewe op die altaar te plaas vir God? Sien jy kans om jou sonde voor Hom te bely en deurnag te bid? |