|
God se Instrument in Herlewing |
|
|
|
|
Heiligheid en Herlewing
|
|
Written by Sammy Tippit
|
Die nag was donker. Christene is erg vervolg. Baie het hulle werk verloor. Party is tronk toe vir hulle geloof terwyl ander geslaan en selfs doodgemaak is. Nogtans is dit altyd in die donkerste nag dat God beweeg en Sy Heilige Gees uitstort en Sy mense weer opwek.
Sy oë gaan heen en weer oor die hele aarde om iemand te kry wie se hart heeltemal op Hom ingestel is. As hy so ’n mens kry, sal Hy hom gebruik as sy instrument om Sy heerlikheid aan sy mense te openbaar.
In die 1970’s het God so ’n man in Roemenië gekry. Dominee Olah Liviu, ’n Christenleier in Oradea, Roemenië het in daardie donker uur sy visie met sy Kerk gedeel. “Ons moet bid dat ons eendag in die groot stadions van ons land sal kan staan en die goeie nuus verkondig” het hy vir sy gemeente gesê. “Bid dat ons daardie evangelie oor televisie, die radio en in die koerante sal verkondig.”
Party mense het hom aangekyk asof hy van sy verstand af is. “Maar dominee,” het hulle geredeneer, “ons word vervolg. Jy ken ons situasie. Dit sal onmoontlik wees.” Nietemin was daar iets anders wat dominee Liviu geweet het. By die mens is dit miskien onmoontlik, maar “by God is alles moontlik.” Hy het geweet dat God nog op Sy troon is. Alhoewel omstandighede dit anders gehad het, het hy geweet dat God baie meer kon doen as wat hulle ooit kon dink of oorweeg. Dus het hy die kerk opgeroep om te bid – en te bid op ’n buitengewone manier. Hy het geweet dat gebed die geheime wapen van die kerk is.
Daar was ’n tweede deel van die boodskap wat pastoor Liviu aan die gemeente gebring het. Hy het vir hulle gesê: “Die Berouers moet berou toon.” Die kommuniste en ateïste in die land het die Evangeliese Christene die naam Berouers gegee weens die verandering wat hulle in hul lewens ervaar het. Hulle het nie die woord as ’n kompliment gebruik nie, maar eerder as ’n vernederende term. Dominee Liviu het geweet herlewing het aangebreek toe die Berouers berou getoon het. Herlewing bring altyd verandering – herskepping. Daarom het hy ’n beroep gedoen op verandering, berou onder die Christene.
Baie van die Christene in Roemenië het gedurende daardie tyd geword soos die wêreld waarin hulle geleef het. Hulle het aangepas by die kultuur eerder as by die beeld van Christus. Berou was dringend nodig. Daarom het dominee Liviu, met groot risiko vir sy lewe en bediening, ’n dapper oproep om berou gedoen op diegene wat Christus leer ken het. Baie in sy gemeente het gehoor gegee aan die oproep en die dinge in hulle lewens bely wat van Christus verskil het. Hulle het die aangesig van God begin soek. En God het die gemeente besoek. Lewens is verander en die kerk het ’n uitbreidingsontploffing beleef.
’n Geestelike ontwaking het nie dadelik na die volk toe gekom nie. Die dae het selfs donkerder geword. Dominee Liviu is uit die land verban. Alhoewel die regering die leraar uit die land gesit het, kon hulle nie die werk keer wat God sou volbring nie. Die leraar het die geheime wapen met te veel mense gedeel. Hulle het geweet hoe om dapper tot God te bid om te werk. Hulle het geweier om op te hou bid. Hoewel die vervolging erger geword het, het hulle volhard om God se aangesig te soek.
Ek onthou die eerste keer toe ek in daardie kerk gepreek het – in 1980. Ek het ’n uur voordat die aanbiddingsdiens sou begin, by die kerk aangekom. ’n Sanggroep het saam met my gereis en hulle moes hulle toerusting opslaan. Niemand het geweet dat ons kom nie, behalwe die leraar. Dit was te gevaarlik om ons dienstye daar te adverteer. Hierdie diens was een van hulle tipiese aanbiddingsdienste. Nietemin was dit vol gepak met mense wat saamgekom het om te bid en die aangesig van God te soek.
Hordes mense het daardie aand na Christus toe gekom. Ateïste het na Christus toe gekom. Vervolgers van Christene het na Christus toe gekom. Dit was ’n asemrowende belewenis. Ek onthou dat ek op ’n ander keer in daardie kerk gepreek het en na afloop van die diens het een van die ouderlinge vir my kom vra: “Sammy, het die Here gewerk? Het die Here vanaand gewerk?” Sy vrae was vir my vreemd. Hy behoort te gesien het hoe die skares op straat in temperature onder vriespunt, na die boodskap geluister het. Hy behoort te gesien het hoe hordes mense bid en hul harte en lewens vir Christus gegee het. “Hoekom vra jy dit?” het ek gevra.
“Jy verstaan nie Sammy. Ek was nie in die ouditorium nie. Ek was in ’n vertrek saam met 100 mans en ons het die hele tyd gebid terwyl jy gepreek het. Daar was ’n ander vertrek met 100 vroue wat ook gebid het terwyl jy gepreek het.” Ek was oorstelp terwyl ek na hierdie dierbare broeder in Christus geluister het. Tot en met daardie tyd was ek nog nooit in ’n plek waar 100 mans en 100 vrouens in aparte vertrekke gebid het terwyl ek gepreek het nie.
Ek het vir die volgende nege jaar na die land gereis en die evangelie verkondig. Dit was wonderlik om die vrugte van herlewing te sien versprei te midde van die duisternis. In 1988 is ek op die grens in hegtenis geneem, onder bewaking geplaas en gedeporteer. Vir my is gesê dat ek nooit weer in die land toegelaat sou word nie. Die laaste ding wat hulle vir my gesê het was: “Solank as wat jy leef sal jy nooit weer jou voete op Roemeense grond sit nie.” Toe sit hulle my op die trein na Oostenryk met die woorde: “Nooit. Nooit ooit weer sal jy in Roemenië toegelaat word nie.”
Maar daar was iets wat hulle nie geweet het nie. God is nog steeds op Sy troon. Dominee Liviu het sy mense leer bid. En die almag van God was besig om ’n volk te herskep. Toe, in 1989 – in een Goddelike oomblik – het God die hemele geopen en Sy Gees uitgestort en Roemenië was nooit weer dieselfde nie. Nicolae Ceaucescu, Roemenië se diktator, is tot ’n val gebring gedurende Kersfees 1989. Dit het alles begin toe ’n Evangeliese leraar deur Roemenië se gevreesde Securitate (Geheime Polisie) gearresteer sou word. Christene van baie denominasies het om sy woning saamgedrom om hom te beskerm. Toe die Securitate daar aankom, het hulle op die skare gevuur en onskuldige mans, vroue en kinders gewond en doodgeskiet.
Op daardie oomblik het God die hemele oopgemaak en Sy Gees oor die volk uitgestort. Meer as 100 000 ateïste het op die hoofplein van die stad Timisoara saamgedrom om hulle te verset teen wat gebeur het. ’n Pastoor-vriend het opgestaan en begin preek. Die hele skare het begin skree: “Exista Dumnezeu! Exista Dumnezeu!” (Daar is ’n God! Daar is ’n God!)
Wat op daardie oomblik gebeur het, het deur die volk versprei. Mense het op dorpspleine oor die hele Roemenië saamgedrom en begin skreeu: “Daar is ’n God! Daar is ’n God!” Die heerlikheid van God is vrygestel oor die land. Roemeense vriende het my gekontak en gesê: “Sammy, jy moet onmiddellik terugkom na die land. Dit waarvoor ons vir soveel jare gebid het, het uiteindelik gebeur.”
Ek het alles waarmee ek besig was net so gelos en die eerste vlug Oostenryk toe gehaal. Vriende het my op die lughawe in Viënna opgelaai en ons het oor Hongarye na die Roemeense grens gery. Die revolusie was nog steeds aan die gang. Ons het nie geweet wie die grense beheer het nie. Ek het net geweet dat my naam in hulle rekenaars vasgelê is as onwelkom in Roemenië. Ons het die hele reis om gebid.
Voor die revolusie was die eerste vraag wat op die grens gevra is, altyd: “Het jy enige Bybels?” As jy Bybels gehad het, was jy in die moeilikheid. Ek sal nooit daardie nag vergeet toe ons by die Roemeense grens aangekom het nie. Dit was donker, koud en dit het gesneeu. Baie mense het probeer om die land te verlaat. Ons was die enigstes wat probeer het om in Roemenië in te gaan. Toe ons nader ry, het die soldate na ons motor gekom. Hulle het gesê: “Klim uit.” Die eerste vraag wat hulle gevra het was: “Is julle Christene?”
My hart het vreeslik vinnig begin klop. Ek het diep asemgehaal, keel skoongemaak, opgekyk en gesê: “Ja. Ons is Christene.” Ek sal nooit vergeet wat toe gebeur het nie. Die soldaat het sy arms wyd uitgestrek en gesê: “Welkom in die nuwe Roemenië.” My oë het vol trane geskiet en ek en my vriende het gekniel en God geloof, geëer en geprys, net daar op die presiese plek waar hulle vir my gesê het ek sal nooit weer in Roemenië toegelaat word nie. Toe ons in die land aankom, het ek goed gesien wat ek nooit gedroom het ek ooit sou sien nie. Doodgewone mense (nie noodwendig kerkmense nie) het na my toe gehardloop in die strate en begin skreeu: “Daar is ’n God! Daar is ’n God!”
Vyf maande later het ek in ’n oop stadion gestaan en ’n evangeliese boodskap gepreek. Net voordat ek begin preek het, het my tolk vir my gevra: “Sammy, weet jy wat is vandag?” Dronkgeslaan het ek gevra: “Wat bedoel jy?” “Vandag,” het hy gesê “is die dag waarvoor ons dominee ons geleer het om te bid – daardie eendag wat ons in die stadions van ons land sou staan en die evangelie sou verkondig. En vandag is die televisie, die koerante en radio hier om jou boodskap op te neem. Vandag is die dag wat God die gebede beantwoord het wat ons pastoor ons leer bid het.”
Ek het op my gesig geval en geween. Binne die volgende vier tot vyf jaar was daar ’n ongelooflike geestelike oes dwarsdeur Roemenië. Baie duisende het na Christus toe gekom. Nuwe kerke is geplant. God het die volk besoek. God is gewillig en in staat om Sy mense op te wek, Sy kerk en selfs ganse volke. Maar Hy het gekies om deur mense te werk. Hy soek nie altyd noodwendig na die magtiges, die rykes of die geleerdes van die dag nie, maar Hy soek altyd na die nederige van hart. As Hy so ’n persoon kry, is daar geen beperking op wat Hy sal doen nie. Ek het dikwels teruggedink aan wat God in Roemenië gedoen het en probeer om insig te verkry wat ander volke sou help om herlewing te beleef. Daar is so baie elemente aan so ’n herlewing verbonde. Maar een ding is seker, as God gereedmaak om ’n volk te herskep, soek Hy na ’n instrument waardeur Hy kan werk.
Die nasionaliteit, ras of kerk denominasie maak nie vir God saak nie. Volgens 2 Kronieke 16:9, deurloop die oë van die Here oor “die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.” (Ou Afrikaanse Vertaling). God sal buitengewone dinge doen wanneer hy iemand kry wat sy hart daarop gesit het om die aangesig van God te soek. Hy het ’n nederige, biddende leraar in Oradea, Roemenië gekry en ’n nasie herskep.
Dit is van deurslaggewende belang dat ons weet na watter soort instrument God soek om te gebruik wanneer hy ’n mensdom wil herskep. Die Bybel beskryf verskeie kenmerke van so ’n persoon. Eerstens, God soek na iemand wat Hom soek. Hy soek iemand wat met sy hele hart na Hom soek.
Geskiedkundig het herlewing plaasgevind op die wieke van ’n klein groepie biddende mense. Dit was waar in die Bybel en dit is waar in die groot geestelike ontwakings dwarsdeur die geskiedenis. Dit was ook waar in Roemenië en dit is waar in elke beweging van God wat ek nog aanskou het. God gebruik die mens of mense wat Sy aangesig soek. Hy het belowe in sy woord “en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kron 7:14).
Herlewing is ’n soewereine natuurkrag van God. Ons kan dit nie opwek of afbid nie. Herlewing is die asem van die Gees van God wat blaas oor die hart van ’n gelowige, ’n kerk of ’n volk. Ons weet nie waar of wanneer die wind van God se Gees sal waai nie. Ons weet wel dat dit altyd waai waar mense bid. God se instrument vir herlewing sal altyd een wees wat Hom soek, nie net Sy hand nie, maar Sy aangesig. God soek na iemand wat ’n begeerte het om Hom waarlik te ken, om Sy vriend te wees. God soek na iemand wat daarna smag om ’n intieme verhouding met Hom te hê. Daardie persoon sal God se instrument wees in tye van herlewing.
Daar is ’n ander eienskap van die persoon wat God gebruik om herlewing na Sy mense te bring. God se instrument sal ’n duidelike visie en passie hê vir herlewing. Baie jare gelede het ek in die voormalige Joego-Slawië onderrig gegee oor herlewing. ’n Toegewyde Christenleier het na my toe gekom en baie vasberade vir my gesê: “O Sammy, ek leef vir hierdie goed.”
Daardie man was gefokus, doelgerig. Een van die grootste behoeftes van die uur is om ’n man of vrou te hê wie se oë gefokus is op ’n magtige herlewing in die land. Pastoor Liviu het ’n duidelike visie gehad. Hy het iets gesien wat niemand anders gesien het nie. Hy het die moontlikheid van herlewing gesien. Alhoewel sy omstandighede hom slegs toegelaat het om die duisternis van buite te sien, kon hy opkyk na die hemel en God se hart vir die volk sien. Hy het die moontlikheid van herlewing gesien en hy het sy hart op daardie een groot strewe gesit.
Daar is vandag baie mense wat goeie dinge najaag, maar nie die beste nie. Baie predikers jaag groter kerke na. Christen leke jaag rykdom na. Jong mense hang vermaaklikheidsterre aan. Maar wie in ons generasie is in ’n passievolle najaging van herlewing onder God se mense? God soek na iemand wat die hemel najaag en daarna smag om te sien dat God se koninkryk aarde toe kom.
Maar die persoon wat God gebruik as sy instrument vir herlewing is nie net iemand met ’n duidelike visie vir herlewing nie, maar ook ’n persoon wat glo dat God so ’n herlewing sal stuur. Die Bybel sê vir ons “sonder geloof is dit onmoontlik is om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” (Heb 11:6). Dit is een ding om die nodigheid en moontlikheid van herlewing in te sien, maar heeltemal iets anders om te glo dat God meer daarna verlang om so ’n herlewing te stuur as wat ons dit begeer.
Kragtige gebed is die verstaan van die wil van God en om dan ons harte en gebede in te stel op die wil van God. Hy beantwoord hierdie soort gebed. Jesus het selfs gesê dat as ons in geloof met ’n berg sou praat dit in die see gewerp sal kan word. Die berg verteenwoordig hindernisse in die weg van herlewing. Wanneer ons na die berg kyk, sien ons die onmoontlike. Maar wanneer ons ’n duidelike visie van God het, verstaan ons dat daar niks is wat te moeilik is vir Hom nie. Hy het elke berg gemaak. Dit is vir God geen groot taak om die berg te verwyder en dit in die see te gooi nie.
Dit is hoekom pastoor Liviu God se instrument in Roemenië was. Hy het geweier om sy geloof in die omstandighede of politiek van die dag te plaas. Hy het in God geglo en gesê: “Bid dat ons eendag in die groot stadions van ons land sal kan staan en die goeie nuus verkondig.” Hy het nie op die duisternis gefokus nie, maar geglo dat God diegene sal vergoed wat naarstigtelik Sy aangesig soek.
Maar waar kom dié soort geloof vandaan? Dit kom uit die Woord van God. Romeine 10:17 sê: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” (Ou Afrikaanse Vertaling). Daarom sal God se instrument altyd iemand van die Woord wees. Groot herlewings in die verlede was gewortel in die Woord van God. Die Herlewing is gebore in die harte van manne en vroue wat hulle lewens gerig het op die Skrif. Die geskiedkundige Amerikaanse en Britse herlewings het verrys uit die kragtige prediking van God se Woord.
Alhoewel die Walliese herlewing van die vroeë 1900’s en die wêreldwye gebedsherlewing van 1858-1860 gekenmerk is deur meer gebed as Bybelse prediking, was dit gewortel in Bybelse waarheid. Soos lewens herskep is, is hulle harte en dade gerig op die Skrif. Een van die hoof kenmerke van die Roemeense gelowiges was hulle liefde vir die Skrif. Bybelse prediking en Bybelse praktyke het altyd vrugbare grond gekweek vir herlewing. Die persoon wat God gebruik moet iemand wees wat toegewy is daaraan om die groot waarhede van die Bybel uit te leef en te uit te roep.
’n Ander kenmerk van die persoon wat God gebruik vir herlewing is dat die persoon altyd ander tot berou en vergewing van sonde sal oproep. Herlewing daal neer op die vleuels van ’n span biddende manne en vroue, maar dit versprei deur die hande en voete van diegene wat God se vergewing gesmaak het. Daar is drie hoofkenmerke van die hart van die persoon wat God gebruik vir herlewing.
Eerstens moet daar ’n gees van gebrokenheid in daardie persoon wees. Herlewing kom nie deur die hooghartige van gees nie, maar vloei eerder deur die gebroke en berouvolle hart. Herlewing is ’n werk van God se genade en Sy genade is alleenlik van toepassing op ’n nederige hart. Wanneer ons God se aangesig soek sal ons Hom in Sy heiligheid sien. Hoe duideliker ons Hom sien, hoe meer gebroke raak ons. Tweedens, sulke goddelike leed dring ons om na die kruis te haas. Ons val voor die kruis neer en smeek om vergifnis. Laastens, as God se genade ons harte vul, lei dit tot belydenis, ’n verandering van hart en rigting in ons lewens.
God se instrument is nie noodwendig ’n persoon wat oënskynlik alles bymekaar het nie, maar eerder iemand wat gebroke is en in die proses is om deur die krag van die kruis omvorm te word. Die persoon wat God gebruik is iemand wat heiligheid hartstogtelik najaag. Die hartewens van God se instrument gedurende herlewing is: “Maak my meer soos Jesus.”
Daar is een laaste kenmerk wat genoem moet word van die persoon wat God gedurende herlewing gebruik. Daardie persoon leef uitsluitlik vir die eer van God. Wanneer herlewing aanbreek, sal geen mens, organisasie of instelling eer ontvang nie. Al die eer, roem en lof behoort aan Jesus. Een van die grootste hindernisse van herlewing in hierdie geslag is dat ons baie koninkryksbouers het, maar min koninkryk soekers.
God sal Sy eer met niemand deel nie. Dit is hoekom Sy instrument ’n hart moet hê wat smag na die eer van God. Pastoor Liviu is verban uit die land voor die groot uitstorting van God se Gees. Hy het nie die magtige beweging van die Heilige Gees beleef toe God ingegryp het in die sake van die geskiedenis van die volk nie. Die kommuniste het gedink dat as hulle die pastoor uit die volk kon verwyder, hierdie beweging onder die Christene tot ’n end sou kom.
Hulle het nie verstaan dat wat besig was om te gebeur, nie die werk van ’n mens is nie, maar eerder die werk van God. Dit was nie gewortel in menslike persoonlikheid nie, maar in die eer van God. Die mens kon gestop word. Maar wanneer God die middelpunt, die fokus en die Een is wat al die eer kry, kan niks die magtige beweging van God se Gees stop nie.
Herlewing kan gedefinieer word as die openbaring van God se eer. Die persoon wat God gebruik sal een hartklop, een passie en een smagting hê. God se instrument sal een hartewens hê: “O God, dit is U eer wat ons nodig het. Laat ons U heerlikheid sien.”
(Artikel vertaal en geplaas met die vriendelike toestemming van Sammy Tiipit. Vir meer informasie kan u sy webruimte besoek, by www.sammytippit.org ) |
|
|