|
Hoogmoed is heel moontlik leiers se grootste vyand, en dit het al baie se ondergang beteken. Hoogmoed is gevaarlik oor die ondergrawende manier waarop dit onbedagte leiers se lewe kan binnesluip. Hoogmoed kan in vroom terme ingeklee word. Dit kleef verbete aan mense vas en maak hulle blind vir die smartlike gevolge van hul sonde. Hoogmoed kom in verskeie vermommings; deur party kan ’n mens sommer dadelik sien, ander is meer subtiel, maar hulle is almal dodelik vir leiers se effektiwiteit.
Hoogmoed bring leiers in die versoeking om ander se erkenning te steelKouzes en Posner beweer die grootste rede hoekom werknemers hul maatskappye verlaat, is omdat hulle nie genoeg lof en erkenning van hul leiers ontvang nie. Dit is demoraliserend vir volgelinge om vir hul organisasie te werk en dan word alle sukses aan die leier toegeskryf. Terwyl ware leiers die verantwoordelikheid vir hul organisasies se swak vertonings dra, erken wyse leiers heeltemal tereg die belangrikheid van hul volgelinge se bydraes vir die organisasie se sukses. Leiers kan nie altyd so vrygewig met geldelike belonings wees soos wat hulle sou wou nie, maar hulle kan vrygewig wees met die opregte lof en dankbaarheid wat hulle aan hul mense oordra.
Hoogmoed kan leiers egter in die versoeking bring om die erkenning vir hul organisasie se sukses te monopoliseer. Hoogmoed dryf leiers om die kalklig op te soek. Hoogmoed maak dat hulle hul eie betrokkenheid oordryf en ander se pogings misken. Die skrywer van Spreuke waarsku: ‘Laat dit aan ’n ander oor om jou te prys, moet dit nie self doen nie; laat dit uit ’n ander se mond kom, nie uit joune nie’ (Spr. 27:2). Tog kan party leiers nie wag dat ander hul pogings prys nie en blaas hul eie beuel. In gesprekke of op openbare byeenkomste vind hulle altyd ’n manier om oor hul jongste prestasie te spog.
Hoogmoed is ’n aanstootlike karaktertrek in sekulêre leiers, maar is selfs meer afskuwelik in geestelike leiers. Hoogmoed maak dat Christelike leiers nie net die erkenning vir wat hul mense gedoen het nie, maar ook vir wat God bereik het, vir hulself toe-eien. Geestelike leiers is God se diensknegte, maar hoogmoed kan maak dat hulle optree asof God hul dienskneg is en verplig is om hul selfsugtige gebede te beantwoord en hul spoggerige planne te seën. Wanneer geestelike leiers se organisasies finansiële sukses behaal, kan hoogmoed maak dat hulle die sukses aan hul goeie sakevernuf en bestuursvaardighede toeskryf pleks van God se leiding en beskerming die eer te gee. Wanneer geestelike leiers se organisasies groei, kan hoogmoed hulle in die versoeking bring om hul dinamiese persoonlikheid of hul meesleurende visie of hul bemarkingskennis die erkenning vir die sukses te gee. Hulle vestig die aandag op hulself pleks van op God. Politieke leiers moet verstaan dat dit rampspoedig kan wees om van God se eer en opperheerskappy misbruik te maak. Nebukadnesar, die koning van Babel en besitter van ’n oordrewe ego, het hierdie waarheid op die harde manier geleer: “Na twaalf maande, terwyl hy op die dak van die paleis geloop het, het hy gesê: ‘Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my eer en roem.’ Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar ’n stem uit die hemel: ‘Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word’” (Dan. 4:29 - 31). God is die heerser oor die wêreld se volke, en Hy alleen deel soewereine gesag uit. Politieke figure moet besef dat hulle, ondanks hul politieke vernuf of wydverspreide gewildheid, op die ou end net met God se toestemming heers. God is beskermend teenoor sy roem. God verafsku hoogmoed (Spr. 6:16 - 17). Wanneer mense onbeskaamd die erkenning vir God se werksaamhede vir hulself toe-eien, gee hulle die almagtige God aanstoot. Wanneer leiers gedurig die sukses van hul organisasie klee in ’n dekmantel van wat hulle gedoen het, nooi hulle God uit om hulle te verootmoedig. Leiers wat versuim om God as die bron van hul oorwinning te erken, lei mense weg van God en lok verkeerdelik misplaaste lof by hul volgelinge uit. Sulke leierskap is teenstrydig met Bybelse beginsels en sal rampspoedig wees vir kerke, sakeondernemings en uiteindelik hele volke.
Tydens 1948 se presidentsverkiesingsveldtog het Harry Truman hom weer verkiesbaar gestel. Die Republikeinse kandidaat, Thomas E. Dewey, wat ook die suksesvolle goewerneur van New York was, was duidelik die gunsteling. Hy is met ’n meerderheid van meer as 700 000 stemme tot goewerneur verkies, wat die grootste meerderheid nog in New York se geskiedenis was. Dewey het in 1944 teen die gewilde president Franklin Roosevelt in die presidentsverkiesing verloor, maar met die kleinste meerderheid sedert 1916. Hy was nou vol vertroue dat hy Truman kon klop, wat net president geword het omdat Roosevelt tydens sy termyn gesterf het. Die nasie se vyftig topjoernaliste is gepols, en al vyftig het Dewey se oorwinning voorspel. Dubbel soveel verslaggewers het oor Dewey se verkiesingsveldtog berig as oor dié van die sittende president, omdat hulle aanvaar het dat hy die volgende president van Amerika sou wees. Dewey het oorgeloop van selfvertroue. Hy was arrogant teenoor Truman, wat nooit op universiteit was nie en pynlik gewoon en ongekultiveerd was vergeleke met Dewey en Roosevelt. Daar is al van Dewey gesê dat hy ‘die enigste man was wat windmakerig kon stap terwyl hy gesit het’. Dewey was so vol vertroue oor sy vermoëns en prestasies dat hy hom nie veel aan sy beskeie teenstander gesteur het nie. Die Chicago Tribune het die oorwinning te haastig aan Dewey toegeken en die oggend na die verkiesing, voor al die uitslae nog in was, groot op die voorblad aangekondig: ‘Dewey verslaan Truman’. Toe, in een van die grootste verkiesingskokke in die Amerikaanse geskiedenis, het die kiesers Truman bo die swaar begunstigde Dewey verkies. Dewey se volgelinge kon dit nie glo nie. Die ondenkbare het gebeur! Dewey het homself oorskat en sy teenstander gruwelik onderskat. Truman se minister van buitelandse sake, Dean Acheson, het die geheim van Truman se sukses só opgesom: Hy was ‘vry van die grootste ondeug in ’n leier; sy ego het nooit tussen hom en sy werk gekom nie’.
Hoogmoed maak leiers onleerbaarHoogmoed maak leiers bevooroordeeld. Wanneer leiers glo hul eie vermoëns is uitsluitlik verantwoordelik vir hul organisasie se sukses, gaan hulle van die gevaarlike veronderstelling uit dat niemand anders hul organisasie so goed kan bestuur soos hulle nie. Hul hoogmoed oortuig hulle dat net hul insig diep genoeg is vir sukses en hulle raak ontoeganklik vir wyse raad. Hulle raak ongeduldig met dié wat nie regtig hul menings aanvaar nie. Hulle ontneem hulself van enorme potensiële geleenthede, net omdat hulle onleerbaar is.
Koning Agab was ’n briljante administrateur en ’n bekwame militêre bevelvoerder, behalwe vir een fatale fout: hy het hom nie aan godvresende raad gesteur nie. Toe hy aan die godvresende koning Josafat voorstel dat hulle hul manskappe bymekaargooi en die Arameërs aanval, het Josafat voorgestel dat hulle eers by raadgewers aanklop. Agab was reg om op sy eie slimheid en militêre ervaring staat te maak, maar om sy regverdige kollega te paai het hy sy godsdienstige raadgewers laat kom. Sedekia, die hoof van Agab se vier honderd raadgewers, het pligsgetrou voorspel wat Agab wou hoor: ’n volslae oorwinning. Steeds nie tevrede nie, het Josafat gevra dat Miga, die Here se profeet, geraadpleeg word. Agab het beswaar gemaak en gesê ‘maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste’ (2 Kron. 18:7). Dit was ook so. Miga het geprofeteer dat Agab se leër verslaan en Agab om die lewe gebring sou word. God het Agab deur sy profeet gewaarsku dat hy sy lewe sou verloor as hy met sy planne voortgaan. Agab se reaksie? Hy het die weerspannige profeet in die tronk gegooi en tot die geveg oorgegaan. Agab se hoogmoed het hom doof gemaak vir wyse raad, en die gevolg was dat hy ’n onedele dood op ’n sinlose slagveld gesterf het (2 Kron. 18).
Hoogmoed se groot oorwinning is om andersins briljante leiers soos Agab teen God se leiding te laat draai wanneer dit deur die wysheid en steun van godvresende mense aan hulle oorgedra word. Maak nie saak hoe talentvol en slim ’n leier is nie, ’n onleerbare gees is die pad na versekerde mislukking. As daar een eienskap is wat alle effektiewe geestelike leiers gemeen het, is dit ’n leerbare gees. Die boek Spreuke verseker ons: ‘Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag ... Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak’ (Spr. 1:7; 2:10 - 11).
Hoogmoed laat leiers dink hulle is selfgenoegsaamIn sy biografie van Theodore Roosevelt het H.W Brands op Roosevelt se vroeë politieke pogings kommentaar gelewer. Hy het opgemerk: ‘Dit sou nie die laaste keer wees dat Roosevelt iemand teenstaan wat ’n bondgenoot moes gewees het nie. Selfs in hierdie vroeë stadium het hy tekens getoon van die egotisme wat hom chronies gedwing het om byna enigeen swart te smeer wat met hom om die kalklig meegeding het.’ Geskiedskrywers reken Roosevelt was een van Amerika se beste presidente. Tog was hy ongelukkig geneig om te dink hy is altyd reg en regverdig en dié wat hom teenstaan, is korrup en boos. Dit het gemaak dat Roosevelt sy medepolitici en ondersteuners wat sy vriende kon gewees het, van hom vervreem het. Hierdie doelgerigte oortuiging van sy eie standpunt het ’n groot rol in sy nederlaag gespeel toe hy hom later weer verkiesbaar gestel het.
Die geskiedenis bevat talle voorbeelde van mense wat die een oomblik op die kruin van sukses was en die volgende oomblik as ’n volslae mislukking op die ashoop beland het. Sakeleiers was al dikwels die een dag nog gevierde mense en die volgende dag word kriminele aanklagte teen hulle aanhangig gemaak. Afrigters het al toekennings as Afrigter van die Jaar ontvang, en teen die middel van die volgende seisoen is hulle in die pad gesteek. Politici het al een termyn die hoogtepunt van mag bereik en die volgende termyn is hulle van hul amp onthef. Predikante was al een week aan die hoof van yslike kerke en moes ’n week later skandelik bedank. Leiers wat toelaat dat hoogmoed hulle blind maak vir hul algehele afhanklikheid van God se genade en die steun van hul mense, sal op die ou end verootmoedig word. Hoogmoed verhef mense om te dink hulle is selfgenoegsaam. Net soos koning Saul verootmoedig is toe hy van God misbruik gemaak het, sal God leiers verootmoedig wat optree asof hulle nie van God se genade afhanklik is nie (1 Sam. 13:13—14).
Lynreg teenoor hoogmoedige leiers soos Saul was geestelike leiers soos D.L. Moody maar alte goed bewus van die bron van hul sukses. Toe die evangelis Johnnie Vasser Moody ontmoet het, het hy uitgeroep: ‘Hoe bly is ek nie om die man te sien wat God gebruik het om soveel siele vir Christus te wen nie!’ In reaksie daarop het Moody afgebuk en ’n hand vol grond opgetel. Hy het die grond deur sy vingers laat glip en bely: ‘Daar is niks meer as dit aan D.L. Moody nie, behalwe hoe God hom gebruik!’ Ondanks Moody se wêreldwye roem en die massiewe gehore vir wie hy gepreek het, het hy nooit vergeet dat hy dit alles aan God te danke het nie.
Hoogmoed maak van leiers ’n teiken en oortuig hulle dat hulle genoeg talent, wysheid en charisma het om te doen wat hulle ook al besluit hulle wil doen. Hoogmoed maak dat leiers glo hulle kan laat slap lê in hul gehoorsaamheid aan God se Woord. Leiers is die kwesbaarste in die area waarin hulle die sterkste is. Max Depree waarsku: ‘Leiers is kwesbaar juis waar hul krag lê en kan maklik op die kruin van hul sukses faal.’ Depree is reg; mense val die hardste van hul hoogste punt. Wyse geestelike leiers aanvaar nooit God se genade, seën en teen-woordigheid as vanselfsprekend nie. Wanneer hulle hul grootste sukses geniet, is wanneer hulle die meeste waak teen hoogmoed wat hulle kan laat val.
Napoleon se skouspelagtige militêre sukses dwarsdeur Europa het hom oortuig dat hy Europa manalleen kan oorwin. Toe hy besluit om Rusland binne te val, was hy so seker van ’n oorwinning dat hy nie oor die klimaat of terrein van die vyandelike gebied navorsing gedoen het nie. Die gevolg was dat hy nie sy soldate op die dodelike Russiese winter voorberei het nie. Napoleon was so opgeblase van verwaandheid oor sy eie vermoëns dat hy nie vir ’n oomblik gedink het hy sou nie onmiddellike en volkome sukses behaal nie. Sy blinde arrogansie het tien duisende soldate hul lewens gekos en Napoleon se ryk het stadig maar seker begin val. Baie jare later is Adolf Hitler deur dieselfde egotisme verblind. Die geskiedenis het hom niks geleer nie. Hy het sy magte dieselfde Russiese winter ingestuur en dieselfde debakel as Napoleon beleef.
Jong leiers kan in die strik trap om geheel en al op hulself staat te maak omdat ervaring hulle nog nie anders geleer het nie. Maar ouer leiers wat beter behoort te weet, is ook kwesbaar vir die slaggat van selfgenoegsaamheid. Weens hul sukses oor die jare begin party glo hulle het nie raad en steun van ander nodig om te lei nie. Hulle kan veral jonger, minder ervare kollegas se voorstelle ignoreer. Die gevolg is dat hulle hulle van hul volgelinge losmaak en uit voeling raak met die werklikheid van hul situasie. Geestelike leiers moet veral versigtig wees om nie van God se seëninge misbruik te maak nie. ’n Hoogmoedige gees is die teenpool van ’n intieme wandeling met God. Simson was ’n militêre man met enorme krag en meer as genoeg mag om sy vyande te verslaan. Sy fout was om daardie mag as vanselfsprekend te aanvaar. Simson het geglo hy kan lewe nes hy wil en steeds so sterk bly soos God hom gemaak het. Toe hy God se duidelike opdragte geïgnoreer en sy verhouding met die Here verwaarloos het, het God toegelaat dat sy mag verdwyn. Toe Simson in eie krag wou doen wat hy nog altyd in die Here se mag gedoen het, het hy ’n vernederende nederlaag gely (Rig. 16:15 - 2 1). Wyse leiers besef altyd dat hulle niks kan doen sonder hul intieme verhouding met Christus nie (Joh. 15:5).
Hoogmoed lei tot ’n verlies aan deernisGod het geestelike leiers wat hul volgelinge as skape gesien het wat geskeer moet word pleks van as ’n kudde wat gelei moet word, deur die profeet Esegiël gekapittel (Eseg. 34:1 - 10). Hierdie voornemende geestelike leiers het gelei vir wat hulle daardeur kon bereik pleks van vir wat hulle kon gee. Die mense is deur ander verstrooi en misbruik, en tog was hul leiers se enigste bekommernis hul eie gemak en voordeel. Leierskap is ’n hoë roeping. Dis ’n godgegewe voorreg. Leiers het die geleentheid om hul volgelinge se lewens te verryk, en hulle het ook die invloed om dit te doen. Maar wanneer leiers die begeerte verloor om ’n bydrae aan hul organisasie te lewer en eerder begin fokus op wat hulle daaruit kan kry, is hulle nie meer ware leiers nie. Hulle ontwikkel ’n gevoel van meerderwaardigheid en sien mense as blote onderdele van die organisasie se masjinerie. Hul beskouing is dat hulle geregtig is op wat hulle ook al uit hul organisasie kan kry.
’n Besliste teken dat hoogmoed in ’n leier se lewe wortelgeskiet het, is dat hulle nie meer deernis het met die mense wat hulle lei nie. Wanneer leiers hulle verhard vir die ontberings van hul mense, het hul hoogmoed hulle ongevoelig gemaak. Wanneer leiers hul mense se salarisse verminder en hulle in die verknorsing laat beland, maar self nog lekker lewe uit die organisasie, verbeur hulle hul reg om te lei. Leiers wat net met hul eie persoonlike prestasies behep is en niks omgee vir ander se behoeftes nie, is die roeping om te lei nie werd nie. Predikante wat nie ontroer raak as ’n lidmaat swaarkry nie, of wat besluiteloos is wanneer een van hul lidmate die spoor byster raak, misbruik die voorreg van geestelike leierskap. Hulle is soos Nero, die Romeinse heerser wat hom volgens oorlewering met musiek vermaak het terwyl Rome gebrand het; of soos Marie Antoinette wat, toe sy gehoor het die Franse kleinboere het nie brood om te eet nie, gesê het: ‘Laat hulle koek eet.’ Die geskiedenis wys dat sulke ongevoelige leiers op die ou end die onderspit gedelf het. Die apostel Paulus, aan die ander kant, het die deernis vertoon wat leiers met hul mense moet hê. In ’n brief aan die gemeente in Korinte het hy gesê: ‘Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan’ (2 Kor. 11:28—29). Ware leiers verloor nooit hul verantwoordelikheid om na hul volgelinge om te sien uit die oog nie.
Hoogmoed maak leiers kwesbaarHoogmoed is ’n sonde, en hoogmoed sal doen wat sonde doen. Dit vernietig. Leiers wat hoogmoed toelaat om voort re woeker, sal op die ou end alles verloor: hul verhoudings, hul geloofwaardigheid en op die ou end hul posisie as leier. Die skrywer van Spreuke waarsku wyslik: ‘Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val’ (Spr. 16:18). Net so onthul die Skrif: ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade’ (Jak. 4:6). Jesus het gewaarsku: ‘Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word’ (Luk. 18:14). Hoogmoedige mense het God as hul teenstander. Hierdie werklikheid behoort genoeg te wees om selfs die ydelste leier te laat wakker skrik. |