’n Instrument van Herlewing PDF Print E-mail
Heiligheid en Herlewing
Written by Francois Carr   

Evan Roberts (1878-1951)

Die Here God het vir ’n tydperk van nege maande (November 1904 – Augustus 1905) ’n ses en twintig jarige steenkoolmynwerker op ’n besondere wyse gebruik. Sy naam was Evan Roberts. Dit het spontaan gelei tot ’n Herlewingsbeweging van die Heilige Gees wat ’n besondere effek op die Kerk in Wallis, sowel as die wêreld gehad het.  Dr Noel Gibbard vertel in sy boek, On the Wings of a Dove, van nagenoeg 30 lande wat geestelike seëninge ervaar het a.g.v. die Herlewing in Wallis.
Evan Roberts het tydens die Herlewing ongekende kritiek verduur vir sy emosionele uitbarstings, uitdrukkings, sowel as sy beweegredes.  Hy het sy kritici egter geantwoord:  “Die Heilige Gees het een aand oor my gekom terwyl ek besig was om te bid. Ek het Hom vir geestelike leiding gevra en vyf maande later het die Heilige Gees my oorskadu met Sy krag en my gesalf. Ek weet dat die werk wat deur my in Wallis gedoen word, nie deur enige menslike vermoë van myself is nie, maar dit is die werk van die Heilige Gees. Dit word ook slegs vir  Sy glorie gedoen.”  Dit was vir hom belangriker om God se leiding te volg en nie ag te gee op wat enige persoon of mens van hom mag dink of sê nie.  Maar wie was hy regtig?  

 

Agtergrond

Evan Roberts is ’n boorling van Loughor, Swansea in Suid-Wallis.  Hy is gebore op 8 Junie 1878 en is enkele weke later gedoop in die Moriah Kapel waar die Herlewing uitgebreek het.  Sy ouers was Henry en Hannah Roberts.  Evan was die 9de van 14 kinders.  Sy vader was ’n werker in ’n steenkoolmyn, ’n beroep wat baie determinasie, moed  en uithouvermoë gevra het.  Teen die ouderdom van twaalf het Evan reeds sy vader vergesel na die myn.  Sy mede mynwerkers het gou agtergekom dat Evan nie saam met hulle vir gebruiklike grappe lag en meemaak nie.  Hulle huisie, ’n eenvoudige dog warm Walliese ‘cottage’, is gekenmerk deur ’n boekrak met verskeie boeke, o.a. sy vader se goedgelese Bybel vanwaar hy honderde skrifgedeeltes gememoriseer het, sy moeder se sangbundel en ’n studiebybel vir elke kind.  Een van sy gunsteling boeke was Charles Sheldon se boekie, In His Steps, met die subtitel: Wat sou Jesus gedoen het?  Sy opvoedkundige kwalifikasies was baie beperk weens die feit dat hy op so ’n vroeë ouderdom reeds begin werk het.

Deur God gekies

Wanneer ons vandag terugkyk na die Walliese Herlewing van 1904 en dit evalueer in die lig van huidige kerklike kringe, gebeure, omstandighede en tegnologiese ontwikkelinge is, dit half onverstaanbaar dat die Here iemand soos Evan kon kies of selfs gebruik.  Hy was glad nie geleerd of ten volle gekwalifiseerd nie.  Dit herinner my baie aan die gedeelte waar die Here vir Dawid uitverkies het.  Die Here kyk nie na die voorkoms of liewer die kwalifikasies nie, maar na die hart.  Evan se hart was onverdeeld op die Here gerig.  God se keuse vir een van die grootste Herlewings in die kerkgeskeidenis, sal seker vir baie steeds ’n onverklaarbare vraagstuk bly.  

Evan Roberts het beperkte ondervinding, kwaliteite en bitter min teologiese opleiding gehad.  Daarmee saam het hy ’n sensitiewe persoonlikheid gehad met min natuurlike gawes.  Dit is geen verrassing as mens in ag neem dat sy opvoeding vanuit ’n arm huislike agtergrond gekom het en dat hy skool so vroeg moes verlaat het nie.  Hy was egter die man wat die Here God uitverkies het.

Sy Karaktereienskappe

Sy karaktereienskappe  was dalk nie so duidelik sigbaar vir die menslike oog nie, maar duidelik sigbaar vir God wat in die hart van die mens kan sien en dit was genoeg.  Evan het deur sy lewe verskeie eienskappe en geloof ingebou wat deur God gebruik kon word.

Geestelike standaarde

Hy het reeds as ’n jong man merkwaardige standaarde gehad. In die oë van sy mynwerker kollegas, wat soms bombasties en ongelooflik krities ingestel was, was Evan ’n goeie werker wat bereid was om hard te werk.  Die lang ure in die koue onder die grond in die myn het hom gebrei en voorberei vir die lang ure en emosionele moegheid wat die Herlewing meegebring het.  Dit het hom gehelp om dissiplines aan te leer wat hy later nodig gehad het.  Die ure in die myn was lank en koud met moeilike werksomstandighede.  In die tyd van die Herlewing het die dienste ook etlike ure geduur en hierdie dissiplines het hom gehelp om daarmee te kon volhard vir baie maande.  Hy het homself ook onttrek van die gesprekke van sy mede mynwerkers.

Geestelike ondervinding

Hy het God en Sy opdragte as ernstig beskou en die advies en raad van diegene in gesagsposisies oor hom aangestel  waardeer.  In die boek An Instrument of Revival van Brynmor Pierce Jones, vertel hy ’n verhaal waar ’n ouderling die gemeentelede uitgedaag het om nooit ’n biduur te mis nie.  Thomas was afwesig toe die Here Jesus opgedaag het.  Evan Roberts het beloof om nooit ’n biduur te mis nie en dat hy getrou sal bid vir die koms van die Heilige Gees in Herlewingskrag.  Hy was maar 15 jaar oud toe hy die belofte gemaak het.  Hy het getrou vir bykans twaalf jaar gebid.  Sommige van sy vriende het een Vrydagaand gaan visvang.  Evan het dit baie sterk oorweeg om net een aand van die weeklikse Vrydagaand weg te bly om te gaan visvang.  Hy bid mos al 12 jaar getrou.  Die Heilige Gees het hom egter herinner aan sy belofte en hy het na die biduur gegaan terwyl sy vriende gaan visvang het.  Dit was die aand wat Seth Josua by die biduur opgetree het.  Gedurende sy boodskap het hy die bekende woorde van “Bend the Church” gebid.  Evan Roberts het gebid: “ Bend me, Bend me”.  Daardie aand het die Here hom besoek, gebreek en dit was die begin van die Herlewingsbeweging.  Hy sou soos Thomas die Here Jesus gemis het.  (Hoe dikwels mis ons nie geestelike seëninge, omdat ons wegbly van die bidure of geestelike byeenkomste, wat die Here dalk op ons wou uitgegiet het nie.)

Sy toegewyde gebedslewe

Hy het vandat hy vyftien jaar oud was getrou elke dag en in besonder tydens die weeklikse bidure gebid vir Herlewing.  Hy het dus vir elf  tot twaalf jaar getrou elke Vrydagaand gebid.  Hy het verskeie kere regdeur die nag gebid (iets wat groot bekommernis by sy vriende en die huiseienaar waar hy tuisgegaan  meegebring het).    

Sy absolute gehoorsaamheid aan die Stem van God

Sy begrip van die werking van die Heilige Gees.  Hy het gesê:  “Die salwing met die Heilige Gees is die essensie van Herlewing, want Herlewing kom as gevolg van ’n kennis van die Heilige Gees en die wyse waarop ons met Hom saamwerk.  Dit stel dan die Heilige Gees in staat om in ons en deur ons te werk soos Hy goeddunk.  Die primêre voorwaarde van Herlewing is dat gelowiges die volheid van die Heilige Gees sal ontdek.”  

Sy boodskap 

Hy het verskeie boodskappe gelewer, maar van die begin af het hy sy boodskappe gefokus rondom die volheid van die Heilige Gees.  Hy het ook besondere klem gelê op vier voorwaardes vir God se seën. Dit was:

  • Die belydenis van alle vorige sondes.
  • Die ondersoek en verwydering van alle twyfelagtige dinge     en geheime sondes in jou lewe.
  • Onmiddellike en volkome gehoorsaamheid aan die Heilige     Gees.
  • penbare verklaring van die Here Jesus ten alle tye in die  publiek.


Die jare na die Herlewing

Die geweldige emosionele las van die Herlewing, min slaap en geweldige preekprogram, lang dienste en kritiek, het op die lange duur veroorsaak dat hy ’n emosionele ineenstorting gehad het.  Hy het homself onttrek van enige publieke aktiwiteite en optredes.  Hy het homself verder toegewy aan gebed en die opbou van gelowiges.  Hy was betrokke by verskeie projekte.  Hy was een van die medeskrywers van ’n tydskrif, The Overcomer.  Hy het ook tesame met Jessie Penn-Lewis die baie bekende War on the Saints geskryf en sy hoofgedagtes saamgevat in ’n Manual of Spiritual Warfare. Hy was ook betrokke by verdere werkers konferensies en die daarstel van Skole van Gebed en in besonder ’n gebedswag, genoem die ‘Lords Watch’.  Hy het gesterf as ’n twee en sewentig jarige man en is begrawe op 29 Januarie 1951 agter die Moriah Kapel waar hy gedoop en die Herlewing van 1904 in Wallis uitgebreek het.
Evan Roberts was ’n merkwaardige instrument van Herlewing.  Hy het slegs vir glorie van God geleef, gebid en gewerk en dit is dus gepas om af te sluit met ’n gedig van Roberts wat dit tot aan die einde bewys:

Thanks be to God! His love is mine.
Heavens dazzling rays around me shine.
Freed through the Cross, the night is over.
Take, Lord the glory evermore.

Saamgestel uit An Instrument of Revival van Brynmor Pierce Jones, Invasion of Wales by the Spirit deur James A Stewart, Kings Champions  en Rent Heavens van R.B. Jones.