“Elkeen dan wat My Sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.” - Matt. 10: 32.
Christus se uiteindelike doel is om vrede vir ons sondige mensdom te verkry, en die verkondiging van die boodskap van vrede is reeds besig om dwarsdeur die wêreld te versprei. Ons moet in ons getuienis nie weifel of in ons hart die waarheid verberg wat aan ons toevertrou is nie, aangesien daardeur smaad en lyding oor ons gebring kan word. Daar is niks wat vir ons eie erns en toewyding so bevorderlik sal wees as ons gedurige getuienis vir Christus nie. Die bevordering van die koninkryk van God word nie soseer bepaal deur merkwaardige veldtogte en preke nie, as deurdat ons elkeen vir ons naaste sou sê: “Ken die Here!”
’n Sendeling het eens op ’n tyd verskonend teenoor my opgemerk, “Ek het nog altyd na herlewing gesmag, maar my sendingstasie is so afgeleë, dat dit vir my onmoontlik is om die dienste van ’n evangelis te bekom.” Asof die werking van die Gees van God net tot ’n paar uitverkorenes beperk is! Enige groep soekende Christene kan die volle seën van Pinkster ontvang. Maar is ons reg om Hom te ontvang? Het ons genoeg waardering vir die Gewer en die gawe?
Die golwe wat met egaligheid breek en uitspoel op ons strande veroorsaak ure se genot vir ons kinders en almal wat lief is vir die see. Die krag van die golwe verskil egter heelwat van mekaar tydens hoogwater en laagwater. Die verskil tussen hoogwater en laagwater is duidelik sigbaar, maar selfs wanneer die water laag is kan ons nog steeds heerlik swem, baljaar en selfs visvang.