|
God inisieer nog steeds
God se weë is nie ons weë nie (Jes 55). God beweeg op opwindende maniere deur die wêreld om Sy doel te bereik. Hy inisieer altyd sake, projekte en aktiwiteite, verbind mense of skep nuwe geleenthede om te bedien. Hy stel nie net daarin belang om vir ons nuwe bedieningsgeleenthede te gee nie, maar liewer om ons uit te nooi om by Hom aan te sluit vir iets wat Hy alreeds geïnisieer het. Ek het oor die afgelope paar weke weer eens agtergekom dat die Here gewone mense gebruik aan wie hy take gee, take wat eintlik goddelike take is om Sy doel te bereik.
Egpare Naweek
Ek het per geleentheid ’n reeks dienste by ’n plaaslike kerk in die Johannesburg omgewing gehou en daar ’n sakeman ontmoet wat die dienste bygewoon het. Hy het my en my gesin na sy wildsplaas uitgenooi vir ’n naweek. Ons het gesels en saam gebid en toe besluit dat ons ’n vyfster “Egpare Naweek” sou adverteer om te kyk hoe sake ontwikkel. So het ons toe van 5-8 Augustus die vyfde “Egpare Naweek” gehou en die sewende besoek aan die Witwater Safari Lodge en Spa (www.witwater.com) gebring. Toe ek die mense se reaksie op die boodskappe sien (party getuienisse is in die jongste Heart Cry Nuus) en hoe hulle die Here ontmoet het, het ek besef dat hierdie ontmoetings plaasgevind het omdat God dit op Sy hart gehad het en daarom hierdie naweke geïnisieer het.
Namibië
Ek het in die kerk van ’n vriend van my in Napier in die Weskaap bedien voordat God hom geroep het om ’n sendingprediker in Kaokoland, Namibië te word. Ons het mekaar weer vlugtig raakgeloop by die Heart Cry konferensie wat in Pretoria gehou is. Net ’n paar weke later het ek ’n oproep ontvang van ’n predikant wat my uitgenooi het om in sy kerk in Windhoek, Namibië te kom preek. Ek het nie verpligtinge gehad vir die spesifieke Sondag nie en het die Vrydag Windhoek toe gevlieg en gebly tot Maandag. Ek het sakemanne en predikers ontmoet en twee boodskappe gedurende die naweek gelewer.
Toe hy my voorstel, het die prediker vertel van die dienste wat ek in Napier gehou het en dat dit as gevolg van my vriend se getuienis is, dat ek die dag op sy preekstoel staan. Ek het besef dat die kerk my vriend uitgestuur het om tussen stamme te werk wat ongeveer 500km van Windhoek af is. Die Sondag het ek ’n uitnodiging gerig aan elkeen wat die stem van die Here met hulle hoor praat het, om te reageer. Ek het gestaan en kyk hoe 100 mense reageer en toe besef dat hierdie oomblik etlike jare gelede op die hart van ons Vader was – selfs voordat ek in Napier gepreek het. Toe ek in Napier gepreek het, het ek nooit besef dat ek in Namibië sou optree nie. Ek het tewens nie eers daarvan gedroom om grense te oorkruis om te gaan preek nie. God het al die tyd geweet en het net gewag vir die regte oomblik om dit uit te stippel sodat ons dit kon bereik wat Hy geïnisieer het. Die kerk beplan verskeie plaaslike Herlewingsdienste asook ’n Heart Cry Namibië binne die volgende paar jaar.
Nuwe Kantoor
Ons kantoor was die afgelope paar jaar in ’n woonhuis in Garsfontein waar ons verskeie vertrekke gehuur het wat as die Hoofkantoor van Heart Cry gedien het. Die res van die woonhuis is uitverhuur aan CTI studente. Die geweldige navraag oor akkommodasie vir die CTI kampus, asook die groeiende behoefte van Heart Cry het dit ons genoodsaak om te begin dink en bid oor ’n ander kantoorruimte.
Een oggend terwyl ek nog op die Here gewag het, het ek ’n oproep ontvang van mev Hester Pentz, assistentbestuurder van die SAOU Gebou (Departement van Onderwys) te Serenestraat 278 Garsfontein. Hulle het ’n paar kantore beskikbaar gehad en wou weet of ons nie sou belangstel om weer daar te kom huur nie. Ons het tydens die bediening van Herlewing SA ’n kantoor daar gehuur alvorens ons moes trek weens ’n tekort aan ruimte. Ons het gaan kyk en dadelik geweet dat dit die plek is waar ons moes wees. Ons het dit onmiddellik bespreek. Ons is baie opgewonde omdat ons nou al ons vergaderings, funksies en selfs Skole van Gebed daar op ’n baie professionele wyse sal kan aanbied.
Ons nuwe hoofkantoor sal vanaf 1 Oktober in die SAOU Gebou in Serenestraat 278, Garsfontein gesetel wees. Ons trek in die laaste week van September en behou ook ons telefoonnommers. Ons Hoofkantoor sal uit die volgende bestaan:
- Ontvangslokaal en sitkamer omring deur plante
- Stoorkamer vir al ons boeke en
- Vier kantore,
- Asook:
- - Gratis parkering in sekuriteitsgebied met wagte
- –Alarm, water en elektrisiteit
- -Volledig toegeruste multi-media Raadsaal (10-50 sitplekke)
- -Volledig toegeruste multi-media Auditorium (125 sitplekke)
- -Komiteekamer vir 10 persone
- -Kombuis en onthaalvertrek vir funksies.
Kostes:
Die huur vir ons nuwe kantore is so ’n bietjie meer as wat ons tans betaal, maar ons kry soveel meer fasiliteite wat ons in staat stel om meer effektief en professioneel te funksioneer terwyl ons fokus op die bediening.
Ons benodig ook fondse vir die verskuiwing van ons meubels, telefoonlyne, rekenaars, Telsys-sentrale stelsel, fotostaatmasjiene en die oorneem van sommige kantoormeubels wat eie is aan die karakter van die gebou.
Ons wil dus vir u vra:
- Om saam met ons die Here te loof vir Sy goedheid en wonderlike voorsiening.
- Om saam met ons die Here te vertrou vir die voorsiening van die eenmalige kostes asook vir die maandelikse huur wat ons benodig en so deel te wees van ons gebedspan.
- Om dit biddend te oorweeg om deel te word van die ondersteuningspan wat as vennoot saam met ons die visie vir herlewing dra deur te help met die uitgawes van Heart Cry projekte en die Heart Cry kantoor.
God kan moontlik op die oomblik ’n paar nuwe goed vir u inisieer soos Hy Homself aan u openbaar sodat ons ons lewens by Syne kan aanpas. Ons kan nie ons opdragte en bedieningsplekke kies nie – Hy doen dit. Alhoewel ons die Here dank vir die wonderlike voorsiening van ons nuwe kantoorgebou, wag ons terselfdertyd om die verbintenis tot Sy doel en oogmerk in en deur hierdie nuwe verwikkeling waar te neem. Ons doel behoort te wees om bewus te raak van Hom en te besef dat elke aspek van ons lewens deel is van wat Hy alreeds geïnisieer het.
Herlewingsgroete
Francois Carr
=================================================== |